(10 porsies)

Sjokolademousse

  • 6 eiers, geskei
  • 155 g (185 ml) strooisuiker
  • 40 ml sterk swart koffie
  • 300 g donkersjokolade
  • 150 g ongesoute botter, in blokkies gesny

Klits eiergele en strooisuiker saam tot lig en romerig. Voeg koffie by. Plaas sjokolade in bak wat pas oor ’n kastrol met kookwater. Die water moenie kook nie en die bak met sjokolade moenie aan die warm water raak nie. Laat sjokolade smelt. Voeg botter blokkie vir blokkie by tot gesmelt terwyl jy roer. Voeg sjokolade-en-bottermengsel by geklitste eiergeelmengsel. Klits eierwitte styf en vou versigtig in. Plaas in yskas vir minstens 4 uur tot styf.

Wenk

Jy kan die sjokolademousse al die vorige dag maak.

Sjokoladevla

  • 6 eiergele
  • 100 g (120 ml) strooisuiker
  • 40 g (85 ml) mielieblom
  • 500 ml melk
  • 100 g donkersjokolade, baie fyn gekap

Klits eiergele en strooisuiker saam vir sowat 4 minute. Voeg mielieblom by en klits goed. Verhit melk in ’n kastrol tot net voor kookpunt. Gooi warm melk stadig oor eiermengsel en klits goed. Gooi terug in kastrol en plaas op lae hitte. Hou aan roer tot dik. Gooi gekapte sjokolade by en roer tot gesmelt. Gooi vla uit in bak en plaas kleefplastiek direk op vla. Laat afkoel.

Om te weet

Die kleefplastiek op die vla keer dat ’n vel vorm.

Pannekoek-mengsel

(12 pannekoeke van 24 cm in deursnee)

  • 500 g (890 ml) koekmeel
  • knippie sout
  • 10 ml suiker
  • 4 eiers
  • 800 ml melk
  • 15 ml suurlemoensap
  • 15 ml gesmelte botter
  • bietjie kakao vir oorsif

Sif meel, sout en suiker saam. Klits eiers, melk, sap en gesmelte botter saam. Maak ’n holte in middel van die meelmengsel. Gooi eiermengsel stadig in holte, en klits aanhoudend om klonte te verwyder. Maak bak toe met kombuislap en laat staan 30 minute. Verhit ’n 24 cm kleefvrye pan. Skep pannekoekbeslag in en bak tot borrels begin wys. Draai pannekoek om en bak nog sowat 2 minute. Haal uit en bak res van pannekoeke. Laat afkoel. Plaas een gaar pannekoek op opdienbord en skep sjokolademousse bo-op. Bedek met tweede pannekoek en skep sjokoladevla bo-op. Herhaal proses tot alle pannekoeke, mousse en vla op is. Sif ’n bietjie kakao bo-op.