Daar is ’n sekere nostalgie wat gepaard gaan met pasteibak. Dit is vir my byna onmoontlik om met deeg in die hand te staan sonder om myself te verbeel ek is op ’n plaas in die Noord-Kaap voor die kombuis se lang ou houttafel. Ons lewe egter in die 21ste eeu en die familie-geheime oor die kuns van pasteibak het dalk tussen jou en oumagrootjie verlore geraak. Wat ook al jou rede waarom jy nog nie (of lanklaas) jou eie pastei gebak het nie, vandag laat vaar jy daardie verskoning! Almal moet minstens elke winter één pastei bak. ’n Kombinasie van die liefde wat jy in jou deeg invou om ’n kombersie te maak en die tafel vol mense wat jy bymekaar bring, maak pasteibak onverruilbaar. Met die volgende paar wenke en resepte raak pasteibak boonop maklik ook!

Liezl se 3 onthou-dinge

  • Yskas toe: Jou deeg mag nooit warm word nie. Die vet smelt, olie syfer uit en die resultaat is ’n papperige deeg! Daarom, ontdooi jou deeg oornag in die yskas, rol uit op ’n koue oppervlak (nie langs die stoof nie) en laat rus deeg in die yskas vir 10-15 minute voor jy dit in die oond sit.

Wenk: As jy warm hande het soos ek, sit jou hande in yswater en droog af net voor jy jou deeg hanteer.

  • Goudbruin deeg: Soms is jou deeg perfek goudbruin maar die vulsel is nog nie heeltemal gaar nie. Haal die pastei uit na 15 minute, of wanneer goudbruin, en bedek hoekies van die pastei (dit verbruin eerste en die vinnigste) met foelie.
  • Kors met kraak: Om ’n papperige deeg aan die onderkant te vermy, verhit ’n bakplaat in die oond waarop jy jou pasteibak kan neersit in die oond - dit gelei die hitte na die bak.

Liezl se resep

As jy vinnig deeg wil maak - wat nie in die yskas hoef te rus nie en nie uitgerol hoef te word nie - is hierdie resep perfek vir die kombersie oor jou vulsel! My ouma het altyd dié slapdegie oor my gunsteling, wildspastei, gegooi.

Ouma Hannetjie se slapdegie

  • 250 ml koekmeel
  • 15 ml bakpoeier
  • 3 ml sout
  • 60 g botter
  • 1 eier
  • 125 ml melk
Plaas koekmeel, bakpoeier en sout in 'n mengbak. Vryf botter met vingerpunte in die droë bestanddele. Klits eier en melk saam in 'n aparte bakkie en voeg dan by droë bestanddele. Klits goed en gooi oor vulsel. Bak vir 10 minute teen 200 °C. Wenk: Wanneer jy nie tyd het om self deeg maak nie, stel ek voor jy gebruik Today Pastry se nuwe boksverpakte vierkantige skilferkorsdeeg – dit rol makliker uit en breek of kraak selde!

Pastei-resepte om te onthou

Hier is my gunstelinge uit die SARIE-argiewe wat jy moet probeer!

Bobotie-pastei

Bobotie-pastei

Hoenderpastei met aartappels

Hoenderpastei met aartappel

Prei-en-aartappel-pastei

Prei-aartappel-pastei

Beesstertpastei

Beesstertpastei

Springbokpastei

Springbokpastei met slapdegie

Spek-hoender-en-sampioenpastei

Spek-hoender-en-sampioenpastei

Hoop jy bak lekker pastei die week en geniet dit saam met jou geliefdes voor 'n kaggelvuur!

Klits-en-klets-kok

Liezl Vermeulen

Volg my ook nou hier en kook saam:Twitter: @KlitsenKletsKokFacebook: Klits en Klets Kok

Instagram: klitsenkletskok