(4 klein tertjies van sowat 8 cm in deursnee)

Deeg

  • 225 g (400 ml) meel
  • knippie sout
  • 15 ml strooisuiker
  • 125 g wit margarien, in klein blokkies gesny
  • 30 ml botter, in klein blokkies gesny
  • ongeveer 2 eetlepels koue water

Sif die meel en sout saam in ’n mengbak. Voeg die strooisuiker by. Voeg die margarien en botter by en vryf in tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg die water eetlepel vir eetlepel by en meng tot ’n stywe deeg. Maak toe met kleefplastiek en laat rus in die yskas vir omtrent 30 minute.

Vulsel

  • 2 eiers
  • 225 ml melk
  • 500 g patats, gaargemaak, fyngedruk en afgekoel
  • 125 g (150 ml) strooisuiker
  • 1 ml sout
  • 1 ml neutmuskaat
  • 1 ml fyn gemmer
  • 2 ml fyn kaneel
  • nog fyn kaneel om bo-oor te sif
  • styfgeklopte room, om voor te sit

Verhit jou oond tot 200 °C. Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Sny sirkels uit en voer gesmeerde tertbakkies daarmee. Klits al die vulselbestanddele goed saam en skep in die uitgevoerde bakkies. Plaas op ’n bakplaat en bak vir ongeveer 35 - 45 minute. Toets die vulsel met ’n toetspen - wanneer dit droog uitkom, is die tertjies gaar. Laat die tertjies in die bakkies afkoel en keer hulle dan versigtig uit. Sny ’n blaarvormige patroon uit ’n stuk papier en plaas die papier bo-op die tertjies. Sif kaneel oor en haal die papier versigtig af. Sit voor met styfgeklopte room.