Peer en sjokolade is 'n goeie kombinasie. Pere is nie altyd in seisoen nie, maar geblikte vrugte is likker in gebak. Omdat die pere klaar versoet is, hoef jy geen ekstra suiker by te voeg nie.

24 klein tertjies (4 cm-deursnee)

Baktyd: sowat 20 – 25 minute

Deeg

  • 100 g (110 ml) botter
  • 30 ml strooisuiker
  • 200 g (360 ml) koekmeel
  • 120 ml koue water

Room botter en suiker saam in die elektriese menger. Voeg meel by tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg koue water by tot ’n deeg vorm. Maak toe met kleefplastiek en laat rus in die yskas vir sowat 30 minute.

Vulsel

  • 1 x 410 g-blik pere, gedreineer
  • 50 g donkersjokolade, baie fyngekap

Kap pere fyn en meng met sjokolade.

Bo-laag

  • 10 ml botter
  • 55 ml bruismeel
  • 25 ml moskovado-suiker
  • 25 ml fyn amandels
  • 24 vars kersies
  • versiersuiker om bo-oor te sif

Verhit oond tot 180 °C. Rol deeg dun uit op meelbestrooide oppervlak. Spuit klein quiche- of muffinpannetjies van 4 cm in deursnee met kleefwerende kossproei. Gebruik ’n 4 cm-koekiedrukker en druk 24 sirkels uit. Voer pannetjies uit met deeg. Skep vulsel in deeg.

Bo-laag

Vryf botter en meel saam tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg suiker en amandels by en meng goed. Bedek elke tertjie met die mengsel en druk effe vas. Bak in warm oond vir sowat 20 minute. Haal uit en laat afkoel. Vir die mooi en lekker kan jy ’n vars kersie bo-op elkeen sit en versiersuiker oorsif.

Wenk

As jy nie van pere hou nie kan jy dit met geblikte appels (ook 410 g-blik) vervang. Kap die appels fyn. Die meeste geblikte appels is nie versoet nie, daarom moet jy dalk sowat 30 ml strooisuiker byvoeg (lees die etiket).