PEPERMENT-YSKASTERT

Tertkors

• 1 pakkie koekies van jou keuse (Marie-, Tennis- of selfs gemmerkoekies)
• 150 ml gesmelte botter of margarien

Rol die beskuitjies goed fyn en meng dit deeglik met die gesmelte botter of margarien. Druk vas op die bodem van 'n deurskynende glas-tertbord en bak dit net 5 minute lank in 'n matige oond (180 ºC) en laat afkoel. Wenk Ek volg soms kortpad en pak sommer net die heel koekies in 'n tertbord en gooi die gesmelte botter of margarien oor.

Vulsel

• 500 ml volroommelk
• 150 ml suiker
• 60 ml mielieblom
• 4 eiers, wit en geel apart
• 4 ml sout
• 45 ml kakao
• 100 g Peppermint Crisp-sjokolade, grofgerasper
• 25 ml gelatien, opgelos in 60 ml koue water
• 50 ml brandewyn
• ekstra 70 g Peppermint Crisp, met 'n mes in brokstukkies gebreek vir versiering

Metode

Meng volroommelk, suiker, mielieblom, eiergele en sout in 'n kastrol. Verhit en kook tot dik terwyl jy heeltyd roer. (My ma het dit op die koolstoof gedoen, maar ek doen dit sommer in die mikrogolfoond op volle krag. Dit is net belangrik om aanhoudend te roer sodat die mengsel mooi glad verdik.)
Verdeel die mengsel gelykop tussen twee mengbakke.
By mengsel in bak 1: Los kakao in 'n klein bietjie kookmelk op en meng goed met die eerste helfte van die melkmengsel. Laat die mengsel 'n bietjie afkoel en roer dan die 100 g gerasperde peperment-sjokolade versigtig by. Skep dit op die kors en maak mooi gelyk.
By mengsel in bak 2: Spons die gelatien en verhit versigtig oor kookwater tot vloeibaar, of smelt baie versigtig vir 20 sekondes op 30% krag in die mikrogolfoond. Roer dan gelatien en brandewyn by bak 2 se mengsel. Klop eierwitte styf en vou ook versigtig by die mengsel in bak 2 in. Skep dit bo-op eerste kakao-laag in die tertbord.
Verkoel goed in die yskas (maar die tert sal selfs sonder 'n yskas oornag op 'n koel plek stol). Versier met die ekstra sjokolade en sit voor.

Wenke
• Soms los ek die brandewyn en voeg 10 ml karamelgeursel by albei mengsels.
• My ma het soms 5ml pepermentgeursel by die boonste melklaag gevoeg en dan die brandewyn uitgelaat