Lasagne bestaan gewoonlik uit bolognese-sous, witsous en pastavelle. Met dié maklike gereg spaar jy baie tyd omdat jy nie die vleissous self maak nie. Pleks daarvan gebruik jy beesvleis-ravioli, wat jy sommer in die winkel koop. Ravioli is pastapakkies met ’n vulsel.

genoeg vir 4-6

Tamatie-rooiwynsous

• 15 ml olyfolie

• ½ ui, fyngekap

• 1 knoffelhuisie, fyngekap

• 1 x 410 g-blik gekapte tamaties

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 70 ml rooiwyn

Verhit olyfolie in ’n kastrol. Voeg ui en knoffel by. Braai tot sag en deurskynend. Voeg tamaties by en geur met sout en peper. Voeg rooiwyn by en maak toe met deksel. Laat prut 30 minute. Haal deksel af en laat nog so 30 minute prut tot sous verdik het. Verpulp tot glad met ’n staafmenger (stick blender). Hou eenkant.

Roomsous

Dis basies witsous, maar daar is room by.

• 185 g (200 ml) botter

• 100 g (180 ml) koekmeel

• 1 liter warm melk

• 250 ml room

• sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas botter in ’n kastrol en smelt oor lae hitte. Verwyder van hitte en voeg meel by. Roer baie goed tot ’n gladde pasta vorm. Plaas terug op stoofplaat. Voeg warm melk by en roer heeltyd om klontvorming te voorkom. Voeg room by en hou aan met roer tot die sous verdik. Geur met sout en peper. Hou eenkant.

Samestelling

• 3 x 250 g pakke beesvleis-ravioli (rou)

• 100 g parmesaankaas, fyngerasper

• hand vol vars basiliekruid

• 30 g (30 ml) botter

Verhit oond tot 180 °C. Gebruik 2 ronde emaljebakke van sowat 20 cm in deursnee (sien foto). Gooi ’n laag roomsous onderin elke bak, gevolg deur ’n laag ravioli, en nog ’n laag roomsous. Skep weer ’n laag ravioli in, dan ’n laag tamatiesous, en nog ’n laag ravioli. Gooi res van roomsous oor. Verdeel tamatiesous tussen bakke en sprinkel kaas oor. Sprinkel basiliekruid bo-op en stip met botter. Plaas in oond en bak sowat 45 minute.