As jy nie krag het om ’n propperse Kerskoek te bak nie, kan jy die´ resep probeer. Daar is niks verkeerd met sjokoladekoek uit ’n boks maak nie – die geheim is wat jy byvoeg.

• 300 ml rosyntjies

• 150 ml brandewyn

• 6 eiers

• 500 ml sonneblomolie

• 500 ml sterk koffie

• 2 bokse sjokoladekoek-mengsel

• 200 g fyn amandels

• 400 ml brandewyn om oor koeke te gooi

• 500 g mascarpone

• 250 ml room

• 50 g (60 ml) strooisuiker

• 200 g 70%-sjokolade

• 25 g (30 ml) botter

• 120 g bloubessies

• 250 g frambose

• versiersuiker om oor te sif

Plaas rosyntjies in ’n mengbak en gooi 150 ml brandewyn oor. Maak toe met kleefplastiek en laat staan oornag. Verhit oond tot 180 °C. Klits eiers en olie sowat 3 minute saam in elektriese menger se bak. Voeg koffie by en klits nog 1 minuut. Voeg koekmengsel by en meng versigtig deur. Voeg geweekte rosyntjies (saam met brandewyn) en amandels by en meng versigtig deur. Verdeel mengsel in 2 goed gesmeerde koekpanne van sowat 25 cm in deursnee. Plaas in oond en bak sowat 45 minute. Toets met ’n dun pennetjie na´ so 35 minute. Wanneer koek gaar is, haal uit oond en gooi die 400 ml brandewyn onmiddellik bo-oor. Laat afkoel in die panne. Keer koeklae versigtig uit en plaas een op ’n opdienbord. Smeer mascarpone bo-op. As die mascarpone-kaas te styf is, kan ’n klein bietjie room bygevoeg word tot dit smeerbaar is. Plaas die ander koeklaag bo- op die mascarpone en sit koek in die yskas.

Sjokoladeversiersel

Plaas room en strooisuiker in ’n kastrol en verhit tot net voor kookpunt. Breek sjokolade in ’n mengbak en voeg botter by. Gooi warm room oor sjokolade en roer tot gesmelt. Laat afkoel tot dik. Haal koek uit yskas en smeer sjokolademengsel bo-op. Versier met vrugte en sif versiersuiker oor.