Lekker klam en ryk.

8–10 porsies

• 1 x 440 ml-blikkie Guinness-bier

• 460 g (500 ml) botter

• 375 ml kakao

• 560 g (1 000 ml) koekmeel

• 420 g (500 ml) strooisuiker

• 15 ml bakpoeier

• 5 ml sout

• 4 eiers

• 190 ml suurroom

Versiersel

• 125 ml room

• 200 g donkersjokolade, grofgekap

• 2 x 220 g-houers roomkaas, liggies geklits

Verhit oond tot 180 °C. Plaas bier, botter en kakao in middelslag-pot. Bring tot net onder kookpunt oor lae hitte. Roer tot botter gesmelt het. Sif meel, strooisuiker, bakpoeier en sout saam in middelslag-mengbak. Klits eiers en suurroom by biermengsel. Voeg mengsel by droë bestanddele en meng tot gladde beslag. Verdeel tussen 3 x 20 cm-losboom-koekpanne wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Bak 35–40 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Keer uit op afkoelrak. Laat heeltemal afkoel. Sny koeklae se bokante met skerp mes gelyk.

Versiersel

Bring room tot kookpunt en gooi oor sjokolade. Roer tot glad. Plaas eerste laag koek op opdienbord en smeer derde van roomkaas oor. Sit tweede laag bo-op eerste laag en herhaal. Herhaal met res van koeklae en roomkaas. Gooi sjokoladesous oor die boonste laag en laat stol. Sit voor.

Hier's ’n paar wenke vir wanneer jy bier by kos voeg:

• Die bier- en kosgeure behoort by mekaar te pas en sekere eienskappe te deel. Die bitter van hop werk bv. goed in geregte wat liggies gegeur is.

• Die sterkte van die bier en die sterkte van die kos moet ooreenstem. Ligte geregte soos slaai pas by ligter biersoorte, en omgekeer.

• Lager pas by dieselfde geregte as witwyn en ale weer by dié wat goed saam met rooiwyn werk.

• As jy die regte kos-pasmaat vir bier soek, moet jy soetheid, bitterheid, gasinhoud en rykheid in ag neem.

• Hoe bitterder die bier smaak as gevolg van sy hop-inhoud, hoe lewendiger moet die kos wees om nie oordonder te word nie.

• Die kos-en-bier-kombinasie hoef mekaar nie altyd aan te vul nie. Soms werk teenoorgestelde smake ewe goed.

• By geregte met swaarder smake soos kerries en bredies kan bier met ’n hoër alkohol-inhoud gedrink word.

Bron: SAB-brouer Denis da Silva

Jy sal ook geniet

Lamsvleispastei, ook met Guinness-bier

VIDEO: Bier-en-biltongbrood

Oop vleisbroodjie met tuisgemaakte biermosterd