Sjokolade-pavlova het 'n heel ander smaak as die gewone een. Wanneer jy dit oopbreek, is die sjokoladekleur binne donkerder as buite. Pavlova het 'n sagte meringue in die middel. Omdat dit reeds soet is, moet jy nie suiker by die room voeg nie.

Genoeg vir 6

Baktyd: 1 uur

  • 4 eierwitte
  • knippie sout
  • 225 g (270 ml) strooisuiker
  • 5 ml witwyn-asyn
  • 30 ml kakao, gesif
  • 250 ml room
  • 350 g vars frambose
  • versiersuiker om oor te sif

Verhit oond tot 140 °C. Maak seker oondrak is in die middel. Klits eierwitte en sout tot dit stywe punte vorm. Voeg strooisuiker lepel vir lepel by en hou aan met klits. Voeg asyn en kakao by en klits goed. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kossproei. Skep die meringue op die bakplaat in ’n groot sirkel. Plaas in oond en bak vir 1 uur. Haal uit en laat afkoel. Haal versigtig van die bakpapier af en plaas op ’n opdienbord. Klits room styf en skep bo-op pavlova. Plaas frambose bo-op en sif ’n klein bietjie versiersuiker oor.