(12 plaatkoekies)

sjokolade-plaatkoekies

  • 120 g (215 ml) koekmeel
  • 10 ml bakpoeier
  • knippie sout
  • 10 ml strooisuiker
  • 60 ml kakao
  • 1 eier
  • 175 ml melk
  • 15 ml gesmelte botter of sonneblomolie

Sif meel, bakpoeier, sout, strooisuiker en kakao saam in 'n mengbak. Klits eier, melk en botter/olie goed saam. Voeg by droë bestanddele en klits goed sodat die beslag geen klonte het nie. Maak bak toe met 'n skoon kombuislap en laat staan vir sowat 30 minute. Smelt sowat 5 ml botter in 'n pan. Skep beslag in pan - 'n opskeplepel vol op 'n slag. Braai tot klein borrels op oppervlak begin vorm en draai versigtig om met 'n eierspaan. Braai weer vir sowat 2 minute. Haal uit en hou eenkant warm. Herhaal tot al die beslag op is. Maak kersiesous.

kersie-rooiwynsous

  • 100 g (125 ml) suiker
  • 375 ml rooiwyn (merlot)
  • 1 stuk pypkaneel
  • 1 blik (425 g) ontpitte kersies, gedreineer
  • 10 ml mielieblom
  • 50 ml water

Meng suiker en wyn in 'n kastrol. Verhit, roer tot suiker opgelos het en bring tot kookpunt. Voeg pypkaneel en kersies by. Laat prut vir 20 minute, sonder deksel. Meng mielieblom en water tot gladde pasta en voeg by. Roer goed en laat prut tot stroop effens verdik. Sit warm voor saam met plaatkoekies.