Jy gaan nou nie heeltemal ’n regte croissant kry nie, maar dis ewe smaaklik – veral met die sjokolade in die middel.

8 Croissants

• 500 g winkelbrooddeeg

• 180 g ongesoute botter, in klein blokkies gesny

• 50 g 70%-donkersjokolade

• 1 eier, geklits

Stap 1. Verhit oond tot 200 °C. Rol deeg in ’n 35 x 20 cm-blok uit op ‘n meelbestrooide oppervlak, sowat 1 cm dik. Trek twee lyne met die agterkant van ’n mes om die deeg in drie gelyke dele te deel (sien foto). Stip helfte van botter oor boonste tweederdes.

Stap 1

Stap 2. Vou onderste derde oor middelste derde.

Stap 2

Stap 3. Vou die boonste deel met botter en al oor die middelste deel. Druk rande vas. Maak toe met kleefplastiek en laat rus 15 minute in yskas. Haal uit en sit só neer op werkoppervlak dat toegedrukte kante onder en bo is (sien foto). Rol weer uit in 35 x 20 cm-blok en herhaal proses met res van botter. Maak toe met kleefplastiek en laat rus weer 15 minute in yskas. Rol deeg nog twee keer uit soos bo uiteengesit, maar sonder enige botter.

Stap 3

Stap 4. Haal deeg uit yskas en rol so 2 cm dik uit. Sny in 4 lang stroke. Verdeel elke strook in helfte. Plaas so 2 blokkies sjokolade in middel van elke helfte. Vou toe en druk goed vas. Plaas op ‘n bakplaat wat uitgevoer is met bakpapier en verf geklitste eier bo-op. Plaas in oond en bak 10 minute. Verlaag temperatuur tot 180 °C en bak nog 15 – 20 minute. Sif bietjie versiersuiker oor en sit warm voor.

stap 4 Stap 4