Resep deur Annerien Vermeulen

(ongeveer 16 Porsies)

  • 4 eiers
  • 250 ml melk, vetvry
  • 10 ml kanola-olie
  • 1 ui, gekap
  • 250 g laevet-spek, gekap
  • ½ groen soetrissie, gekap
  • 250 g sampioene, skoongemaak en in skyfies gesny
  • 100 g ham, gesny
  • 5 ml aangemaakte mosterd
  • 30 ml vars gekapte pietersielie
  • sout en peper
  • 30 ml meel
  • 125 ml Tusser’s-kaas, gerasper

Verhit oond tot 180 °C. Klits die eiers en melk saam en hou eenkant. Verhit die olie en braai die ui tot deurskynend. Voeg die spek, soetrissie en sampioene by en braai tot gaar. Meng met die ham. Meng die uiemengsel met die eiermengsel, mosterd, pietersielie, sout en peper, en meel. Skep mengsel in ’n standaard-muffinpannetjie wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Sprinkel kaas oor en bak ongeveer 35 minute tot gestol.

Souttert–analise per porsie (85g)

Energie 394 kJ

Koolhidrate 3 g

Proteïen 9 g

Vet 5g

Versadigde vet 2 g

Mono-onversadigde vet 12 g

Poli-onversadigde vet 0,6 g

Cholesterol 310 mg

Natrium 627 mg

Glukemiese lading 8,63

Kommentaar van Dieetkundige

Die hoër vetinhoud kom van al die dierlike proteïen (spek en ham) in die resep. Hou dus die spek- en hamsnitte so maer as moontlik.