(6 porsies)

  • 8 groot rosa-tamaties, gehalveer
  • 40 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 geel soetrissie, in dik skywe gesny
  • 1 rooi soetrissie, in dik skywe gesny
  • 30 ml olyfolie
  • 2 knoffelhuisies, in skywe gesny
  • 300 g spinasie-tagliatelle
  • 2 x 120 g mozzarella-kaas-balle
  • handvol vars basiliekruid, grofgebreek
  • 500 ml room
  • 100 g gerasperde pecorino-kaas
  • 200 g fetakaas

Verhit jou oond tot 180 °C. Plaas die gehalveerde tamaties in ’n oondbak en sprinkel die 40 ml olyfolie oor. Geur met sout en swartpeper en plaas in die oond. Plaas die soetrissies in ’n ander oondbak en gooi die 30 ml olyfolie en knoffel oor. Meng goed en plaas die soetrissies ook in die oond. Rooster albei bakke groente vir 40 - 45 minute. Kook die tagliatelle volgens die aanwysings op die pak en dreineer. Volg nou die stappe soos op die foto’s hieronder:

Stap 1

Smeer ’n oondbak van sowat 30 cm in deursnee met botter. Plaas die meeste van die tagliatelle daarin. Rangskik die geroosterde soetrissies bo-op en breek die mozzarella-kaas daaroor.

Stap 2

Plaas die orige pasta, die tamaties en die vars basiliekruid bo-op.

Stap 3

Gooi die room oor en besprinkel met die gerasperde pecorino-kaas. Breek die fetakaas oor en plaas in die oond. Bak vir so 30 minute tot lekker bruin.

Om te drink

Stellekaya se Boschetto Rosso Red is ’n versnit met ’n Italiaanse geur. Die sangiovese-druif is versny met cabernet en merlot en pas wonderlik by geregte met ’n tamatiebasis.