(’n kaaskoek van sowat 20 cm)

Brosbroodkors

  • 100 g (180 ml) koekmeel
  • 35 g (40 ml) strooisuiker
  • knippie sout
  • 60 g (65 ml) botter
  • 1 eiergeel, effens geklits

Verwerk die meel, suiker, sout en botter in jou voedselverwerker tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg die eiergeel by en verwerk tot dit ’n deeg vorm. Maak die deeg toe met kleefplastiek en laat rus in die yskas vir 30 minute. Verhit jou oond tot 180 °C. Voer ’n losboom-pan met bakpapier. Rol die deeg tussen twee lae waspapier uit tot so 2 mm dik. Sny die regte grootte uit en plaas die deeg onder in die pan. Prik dit met ’n vurk en bak vir 10 - 15 minute tot gaar. Haal uit en laat afkoel in die pan.

Vulsel 

  • 4 eiergele
  • 200 g (240 ml) strooisuiker
  • 250 ml melk
  • gerasperde skil van een suurlemoen
  • sap van een suurlemoen
  • 20 g gelatien
  • 50 ml water
  • 2 houers simonsberg low Fat Cream Cheese
  • 500 ml room, styfgeklop
  • 2 blikke ontpitte swartkersies
  • 30 ml mielieblom
  • 40 ml water

Klits die eiergele en suiker saam tot lig en romerig. Verhit die melk tot net voor kookpunt. Voeg dit by die eiergele en gooi die mengsel terug in jou kastrol. Roer dit oor ’n baie lae hitte tot dit die agterkant van ’n houtlepel bedek. Voeg die skil en suurlemoensap by. Los die gelatien op in sowat 50 ml water. Plaas die bakkie met gelatien oor ’n bak met kookwater en laat die gelatien smelt. Voeg dit by die warm vla en laat effens afkoel. Voeg die roomkaas by en meng goed. Vou die styfgeklopte room in. Gooi die mengsel in die koekpan en plaas in die yskas vir 2 of 3 ure om te stol. Haal die gestolde koek versigtig uit die pan en plaas op ’n bord. Dreineer die swartkersies (behou die stroop). Pak die kersies op die koek en gooi die stroop in ’n kastrol. Verhit effens. Meng die mielieblom met sowat 40 ml water en voeg by die stroop. Roer tot die stroop verdik. Laat afkoel. Gooi die stroop oor die kersies om die koek te glaseer.