My ma sê jy mag nie nagereg eet as jy nie jou groente eet nie, maar vrugte is mos ook groente?

genoeg vir 8

• 500 ml room

• 70 g (80 ml) suiker

• 5 ml vanieljegeursel

• 15 ml gelatien

• 50 ml water

• 175 g frambose en bloubessies

• 250 g meringues van jou keuse

• 1 x 280 g-madeirakoek, in skywe gesny

• 100 ml sjerrie

• 175 g aarbeie

• 500 ml winkelvla

• 1 liter bessieroomys

Bring room, suiker en vanielje tot kookpunt oor matige hitte en laat prut 2 minute. Sprinkel gelatien oor water en laat week so 2 minute. Verwyder roommengsel van hitte en roer geweekte gelatien by warm mengsel tot gesmelt. Gooi mengsel onderin 2 literglasbak. Laat stol 3 uur in yskas. Sprinkel bessies op gestolde panna cotta. Krummel helfte van meringues bo-oor. Pak laag koek en sprinkel helfte van sjerrie oor. Pak aarbeie boop en gooi vla oor. Pak nog een laag koek bo-op en sprinkel res van sjerrie oor. Plaas in yskas vir minstens 1 uur, of tot jy dit voorsit. Skep balle roomys bo-op saam met res van meringues.