Skuimpies is mos eintlik maar meringue. Die woord is vir my so nostalgies. Dit laat my terugverlang na my kinderdae en alles wat soet is.

(Genoeg vir 8)

  • 2 eierwitte
  • 125 g (150 ml) strooisuiker
  • 10 ml amandelgeursel
  • 30 ml witasyn

Pere

  • 500 ml water
  • 200 g (250 ml) suiker
  • 1 vanieljepeul of 10 ml vanieljegeursel
  • 6 pere, geskil, ontklok en gehalveer

Verhit oond tot 140 °C. Klits eierwitte in elektriese menger tot sagte punte vorm. Gooi strooisuiker geleidelik by en hou aan klits tot blink en styf. Voeg geursel en asyn by, en klits tot gemeng. Skep meringue-mengsel in spuitsak met 1 cmster- tuit. Voer bakplaat uit met bakpapier en spuit goed met kleefwerende kossproei. Spuit meringue-rosette van so 2 cm in deursnee op die bakplaat. Bak 15 – 20 minute of tot bros, maar steeds sag binne. Laat afkoel op bakplaat.

Pere

Plaas water, suiker en vanieljesaadjies of geursel in middelslag-pot. Bring tot kookpunt oor hoë hitte. Plaas pere in suikermengsel en sit ’n stuk bakpapier direk op die pere. Verlaag hitte en laat stadig prut vir 15 – 20 minute of tot pere sag, maar steeds ferm is. Laat afkoel in stroop. Skep pere met stroop op opdienbord en sit voor met skuimpies.