Terrien is oral te koop in Frankryk. Hier’s ’n maklike resep.

Genoeg vir 10

• 700 g varkfilet

• 4 ontbeende hoenderborsies sonder vel

• 250 g strepiespek

• 2 klein uie

• 1 eier, geklits

• 45 ml brandewyn

• 7 ml sout

• 3 ml varsgemaalde swartpeper

• 4 – 5 takkies vars tiemie

• sowat 375 g strepiespek

Sny varkfilet in blokke. Kap baie fyn in voedselverwerker. Skep in ’n mengbak. Plaas hoender in voedselverwerker sonder om dit te was en kap ook baie fyn. Voeg hoender by varkvleis in mengbak. Sny 250 g strepiespek in blokke en kap fyn in die voedselverwerker. Voeg spek by ander vleis. Kap uie ook baie fyn in die voedselverwerker en voeg by vleis. Voeg geklitste eier, brandewyn, sout en peper by. Meng baie goed en maak bak toe met kleefplastiek. Plaas in yskas en laat rus 1 uur. Verhit oond tot 180 °C. Rangskik vars tiemietakkies onderin ’n terrienbak met ’n volume van 1,4 liter. Voer bak heeltemal uit met van die 375 g spek. Skep vleisvulsel in bak en druk vulsel stewig vas. Bedek bokant ook met spek. Plaas deksel op terrienbak en maak hele bak toe met foelie. Plaas in oond-braaibak en vul bak met kookwater tot so halfpad teen die rand van die terrienbak op. Plaas in oond en bak 2 uur. Haal versigtig uit die waterbad. Haal deksel af van terrien-bak en plaas ’n plank bo-op. Plaas swaar blikkies met kos in bo-op om die terrien af te druk. Wanneer dit mooi plat is en afgekoel het, laat dit oornag in yskas staan. Keer versigtig uit en sit voor met appelliefie-blatjang.