Jy kan natuurlik pleks van varkvleis jou eie groentevulsel maak. Gebruik groente van jou keuse en sny alles in baie dun strokkies.

Sowat 10 rolletjies

  • 25 g gedroogde vermicelli-noedels
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 3 klein uitjies, fyngekap (ek het piekel-uitjies gebruik)
  • 10 ml vissous
  • 500 g varkmaalveis
  • knippie strooisuiker
  • 4 grasuie, fyngekap
  • hand vol spruite, gekap
  • 1 klein wortel, gerasper
  • 6 velle fillodeeg
  • 1 eierwit, effens geklits
  • sowat 250 ml sonneblomolie, om die spring rolls in te braai

Week die noedels in kookwater tot sag (so 5 – 10 minute). Sny die noedels in kleiner stukke. Meng al die bestanddele behalwe die fillodeeg en eierwit saam in ’n mengbak. Geur met sout en swartpeper. Plaas een vel fillodeeg op jou werkoppervlak en sny in twee lang stroke. Vorm ’n lang wors van die vleisvulsel en plaas dit aan die een kant van die deegstrook (daar moet sowat 3 cm spasie bo en aan die kante van die deeg wees). Verf die rand van die fillodeeg reg rondom met die eierwit. Vou die boonste rand oor die vleis en vou dan die twee lang sye om. Rol die deeg op sodat dit soos ’n sigaar lyk. Herhaal met die res. Verhit die olie in ’n diep pan. As jy ’n stukkie brood in die olie laat val, moet dit nie dadelik bruin brand nie. Die spring rolls moet taamlik stadig braai sodat die vleis kan gaar word. Braai tot mooi goudbruin en dreineer op kombuispapier. Sit warm voor saam met hierdie sous:

Jy benodig

  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 rooi brandrissies, in ringe gesny
  • 30 ml strooisuiker
  • 30 ml suurlemoensap
  • 30 ml vissous
  • 30 ml rysasyn
  • 5 ml sojasous

Meng al die bestanddele saam en laat staan vir 30 minute.