Hoe goedkoop en maklik is hierdie resep nie! Daar's net een bestanddeel en dis vars waatlemoen. Sit voor as drankie of koel nagereg.

(Genoeg vir 6)

  • 1 200 g vars waatlemoen

Sny waatlemoen in stukke en verwyder pitte. Verpulp in voedselverwerker. Druk deur sif om seker te maak die pitte is uit. Gooi in plat vierkantige metaalbak van sowat 22 x 22 cm en 4½ cm diep. Sit in vrieskas vir so 2 uur. Krap die bevrore waatlemoen met ’n vurk, sodat van die yskristalle kan breek. Sit terug in vrieskas en laat vries tot heeltemal hard. Haal uit en laat staan 2 minute. Gebruik weer ’n vurk en krap granita tot fyn yskristalle. Skep in bakkies en sit dadelik voor.

Om te weet

Granita is ’n Italiaanse bevrore nagereg wat gewoonlik van suiker, water en geurmiddels gemaak word. Dit word met ’n vurk gekrap om growwe kristalle te skep. Sorbets, wat dieselfde bestanddele bevat, word in ’n roomysmasjien gemaak en die kristalle is fyner.

Wenk

Dis belangrik om ’n metaalbak te gebruik om die granita yskoud te hou. Voeg so 100 ml vodka by die waatlemoen as jy wil hê jou granita moet effens meer skop hê.