Die geheim van die sop is om die uie en knoffel stadig te braai tot al die geure loskom.

genoeg vir 6

• 45 ml kanola-olie

• 6 sprietuie, gesny

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• 1 x 500 g-sak blomkool, grofgebreek

• 500 ml hoenderaftreksel

• 250 ml laktosevrye melk (sien bl. 104)

• 15 ml rissievlokkies

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 45 ml olyfolie

• 1 x 225 g-chorizowors, in ringe gesny (sien bl. 104)

• 20 ml gerookte paprika

Verhit kanola-olie tot warm in middelslagpot. Voeg uie en knoffel by en roerbraai 2 minute. Verlaag hitte en voeg ¾ van blomkool by – die res kom bo-op die sop. Plaas deksel op pot en laat stoom 8 – 10 minute of tot geurig. Roer elke 2 – 3 minute. Voeg aftreksel, melk en rissievlokkies by. Geur goed met sout en peper. Laat kook oop tot vloeistof met 1/3 verminder het. Gebruik ’n staafmenger (stick blender) en verpulp sop tot gladde mengsel. Proe en pas geur aan met nog sout en peper. Verhit olyfolie in braaipan en braai orige 1/4 van blomkool 5 – 8 minute of tot sag en bruin. Voeg chorizo by. Braai 3 – 5 minute of tot goudbruin en gaar. Voeg paprika by en braai nog 2 – 3 minute. Skep bo-op sop en sit voor.