As jy vegetariese vriende het, kan jy die sop sonder die skenkels vir hulle voorsit.

GENOEG VIR 4

MINESTRONE-SOP

• 300 g droë rooi gespikkelde bone

• 60 ml olyfolie

• 1 ui, fyngekap

• 1 selderystingel, in blokkies gesny

• 150 g klaar gesnyde wortelstokkies, in blokkies gesny

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• 1 x 400 g-blik gekapte tamaties

• 750 ml groente-aftreksel

• 500 ml kookwater

• 1 lourierblaar

• 2 takkies vars tiemie

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 3 aartappels, geskil en in blokkies gesny

OONDGEBAKTE LAMSKENKELS

• 2 groot lamskenkels

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• sap van ½ suurlemoen

• sowat 60 ml olyfolie

• sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas droë bone in ’n mengbak. Bedek met koue water en laat week oornag. Dreineer. Verhit olyfolie in diep kastrol. Voeg ui en seldery by en braai sowat 5 minute. Voeg wortelblokkies en knoffel by en braai nog sowat 5 minute. Voeg tamaties, bone, aftreksel, kookwater, lourierblaar en tiemie by. Geur met sout en peper. Maak kastrol toe met deksel en laat prut 2 uur. Voeg aartappelblokkies by en laat prut oop tot aartappels sag is. Oondgebakte lamskenkels Verhit oond tot 180 °C. Plaas lamskenkels in ’n oondbraaibak. Vryf fyngekapte knoffel oor elke skenkel. Gooi suurlemoensap en olyfolie oor. Geur met sout en peper. Maak bak stewig toe met foelie. Plaas in oond en oondbak 2 uur. Haal uit en verwyder foelie. Skep van die vleissouse oor skenkels en plaas oop terug in oond. Oondbak nog sowat ’n halfuur tot mooi bruin en baie sag. Skep sop in opdienbak en plaas skenkels in sop. Garneer met ekstra vars tiemietakkies. Sit voor.