(LEWER 8 GROOT GEVULDE SAMPIOENE)

PORSIEGROOTTE: 1 – 2 GROOT

GEVULDE SAMPIOENE

  • 8 groot bruin sampioene (± 640 g)
  • ± 5 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 15 ml gemengde droë kruie

Vulsel

  • 125 ml (100 g) volgraankoeskoes
  • 125 ml kookwater
  • 10 ml olyfolie
  • 1 (50 g) klein ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 125 ml (80 g) gaar bruin lensies
  • 30 ml tamatiepuree
  • 2,5 ml sout
  • 2,5 ml fyn komynsaad
  • 5 ml droë origanum
  • 75 g fetakaas, gekrummel
  • hand vol vars pietersielie, gekap

  1. Verhit roosterelement van oond kort voor benodig.
  2. Vee sampioene skoon met klam lappie en sny stingelgedeeltes uit. Kap stingels fyn en hou eenkant vir vulsel. Geur sampioene met sout, swartpeper en kruie. Pak sampioene met stingelkant na onder op
  3. gesmeerde bakplaat. Verf bokant van sampioene met ’n bietjie olie en rooster vir 3 – 4 minute wanneer die vulsel byna gereed is. Draai sampioene om, rooster weer vir 2 minute en vul met koeskoes-vulsel.
  4. Vulsel Sit koeskoes in ’n bakkie, skink kookwater oor en bedek bakkie sodat koeskoes vir 10 minute kan week. Maak gaar koeskoes los met ’n vurk.
  5. Verhit olie tot matige hitte en roerbraai sampioenstingels, ui en knoffel tot ui deurskynend is. Roer gaar koeskoes, gaar lensies en tamatiepuree by sampioenmengsel. Geur met sout, komynsaad en origanum. Roer fetakaas by en skep ’n goeie porsie op elke sampioen. Druk effens vas. Rooster gevulde sampioene tot vulsel warm is. Sit voor met vars pietersielie.

WENKE

  • Jy benodig 40 ml/35 g rou bruin lensies om 125 ml/80 g gaar lensies te kry.
  • Beplan 2 bruin sampioene as ’n vegetariese hoofgereg of 1 bruin sampioen as bykos vir ’n vleis- of visgereg. Rond die gereg af met ’n ruim porsie gestoomde gemengde groente of ’n bros groenslaai.