(4 - 6 porsies)

  • 30 ml olyfolie
  • 1 klein ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 250 g arborio-rys
  • 160 ml witwyn
  • 700 ml groente- of hoenderaftreksel
  • 125 ml laevet-room
  • 280 g bevrore ertjies
  • 120 g parmesaankaas, gerasper
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • parmesaanskaafsels

Verhit olyfolie in 'n groot, diep pan. Braai ui en knoffel tot sag en deurskynend. Voeg rys by en soteer vir nog sowat 5 minute. Gooi wyn oor en laat stadig kook tot alles deur die rys geabsorbeer is. Skep aftreksel lepel vir lepel by en roer goed ná elke byvoeging. Wanneer jy al die aftreksel bygevoeg het en die rys 'n klewerige voorkoms het, voeg room by en roer goed. Prut tot rys heeltemal gaar is en mengsel 'n romerige tekstuur het. Voeg ertjies by en roer vir 2 minute. Verwyder van plaat en vou parmesaankaas by. Geur goed met sout en swartpeper. Sit warm voor met parmesaanskaafsels. Maak parmesaanskaafsels met 'n skerp groenteskiller wat jy oor die kaas trek. Moet dit nie te lank voor die tyd maak nie, dan sweet die kaas.