Die lekker van dié gereg is dat jy dit al die vorige dag kan maak en in die yskas hou.

(SOWAT 20 SIRKELS)

  • 200 g baba-spinasieblare
  • 4 medium-groot aartappels, geskil
  • 30 g (30 ml) botter
  • 2 eiers, geklits
  • 300 g cheddarkaas, gerasper
  • 2 brandrissies, fyngekap (opsioneel)
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 6 velle fillodeeg
  • 60 g (60 ml) botter, gesmelt
  • olyfolie om sirkels in te braai

Spoel spinasieblare goed af. Plaas in groot bak en gooi kookwater oor. Laat staan tot blare verlep het. Gooi in vergiettes en laat afkoel. Druk alle oortollige water met jou hande uit. Kap fyn en hou eenkant. Kook aartappels tot sag. Dreineer en plaas in mengbak. Druk fyn met vurk – daar kan nog stukkies aartappel in wees. Voeg 30 g botter by en meng. Voeg eiers, kaas, brandrissie en spinasie by en meng goed. Geur met sout en peper en maak bak toe met kleefplastiek. Plaas in yskas vir sowat 30 minute. Plaas een vel fillodeeg op ’n werkoppervlak. Smeer met gesmelte botter en plaas nog een vel bo-op. Smeer weer met gesmelte botter en plaas nog een vel bo-op. Smeer met gesmelte botter. Skep helfte van vulsel sowat 5 cm van onderkant van deeg in ’n lang wors. Vou deeg oor vulsel en rol op. Herhaal met res. Maak toe met kleefplastiek en plaas in die yskas vir minstens 1 uur. Sny in sowat 3 cm-sirkels. Verhit olyfolie in pan oor medium hitte. Plaas ’n paar sirkels in pan, braai sowat 4 minute aan een kant en draai om. Braai tot goudbruin en bros. Haal uit en plaas op kombuispapier. Hou eenkant warm terwyl die res gebraai word. Sit warm voor.

Wenk

Bedek die fillodeeg-velle met ’n klam afdrooglap terwyl jy daarmee werk. Dit droog vinnig uit.