Maak jou Kersfees-hoemoes kleurryk en mooi met vars eetbare blomme, granaatpitte en tamaties.

genoeg vir 10

• 350 g droë kekerertjies

• 5 ml sout

• 250 ml tahini-pasta

• 1 hand vol pietersielie, grofgekap

• 4 knoffelhuisies, gekap

• sap en skil van 2 suurlemoene

• 150 ml water

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 200 g kersietamaties, gehalveer

• 12 eetbare blommetjies soos gesiggies

• 100 g granaatpitte

• goeie olyfolie vir voorsit

Aand voor die tyd Bedek die kekerertjies met koue water en laat oornag week. (Ja, ek weet dis moeite, maar glo my, jy gaan die verskil proe.)

Volgende dag Dreineer die geweekte kekerertjies, plaas dit in ’n skoon pot en geur met 5 ml sout. Bedek met water, bring tot kookpunt en kook sowat 30 minute tot sag. Dreineer en laat afkoel. Plaas die gaar kekerertjies saam met die tahini, pietersielie, knoffel en suurlemoensap en -skil in ’n voedselverwerker. Gooi die 150 ml water by en pols teen ’n hoë spoed tot ’n gladde puree. Geur goed met sout en peper. Skep mengsel in middel van opdienbord en smeer plat met agterkant van ’n eetlepel. Pak tamaties, blomme en granaatpitte rondom. Sprinkel olyfolie oor en sit voor.

Kyk HIER na die res van ons Kersfees-spyskaart