Wat is dit?

Dié geelwit blaargroente is ook bekend as sigorei of Belgiese andyvie en het ’n effens pikante, bitter smaak. Gebruik dit as slaaiblare of in warm geregte. Elke witloofblaar lyk soos ’n bootjie - ideaal om met iets te vul, soos jou gunsteling-patee. Omdat witloof oorspronklik van België kom, gee ek ’n klassieke Belgiese resep.

Witloof-en-parmaham-gratin

(4 porsies)

  • 300 ml hoenderaftreksel
  • 4 witloof-koppe
  • 30 ml botter
  • 30 ml meel
  • 250 ml room
  • 70 g gruyèrekaas, gerasper
  • 1 ml fyn neutmuskaat
  • 10 ml korrelmosterd
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 4 snye parmaham

Bring die hoenderaftreksel tot kookpunt in ’n kastrol. Voeg die witloof by en laat kook vir 8 minute. Dreineer en laat afkoel op kombuispapier. Verhit jou oond tot 180 °C. Maak intussen ’n witsous: Smelt die botter en voeg die meel by. Roer goed. Voeg die room bietjie vir bietjie by terwyl jy heeltyd roer. Voeg so ’n driekwart van die kaas by. Voeg die neutmuskaat en mosterd by wanneer die sous dik word. Geur met sout en peper. Draai ’n sny parmaham om elke witloof-kop. Plaas in ’n oondbak en gooi die sous oor. Sprinkel die oorblywende kaas bo-oor en bak vir 30 - 35 minute tot mooi goudbruin bo-op.

Waar kan ek dit koop?

Witloof is dwarsdeur die jaar beskikbaar by supermarkte soos Spar, Pick n Pay, Checkers en Woolworths. Koop altyd witloof met geelwit blare.