• 500 ml groente-aftreksel
  • knippie saffraan (of 0,5 ml borrie)
  • 13 g gelatien
  • 250 ml crème fraîche
  • 200 g sagte bokmelk-fetakaas
  • sowat 60 ml dukka
  • 2 avokado’s, in blokkies gesny
  • groot hand vol vars koljanderblare
  • 4 gaar bete, in blokkies gesny
  • sap van 1 suurlemoen
  • olyfolie

Verhit die groente-aftreksel en voeg die saffraan of borrie by. Voeg die gelatien by en roer tot opgelos. Laat afkoel en gooi in ’n plastiekbak. Plaas in die yskas vir sowat 3 ure tot gestol. Meng die crème fraîche en bokmelk-fetakaas. Sny die gestolde groente-aftreksel in klein blokkies. Skep van die blokkies onderin die glase. Die volgende laag is van die crème fraîche-mengsel. Strooi van die dukka bo-op dié laag. Bo die dukka kom die avokado-blokkies, met ’n paar vars koljanderblare. Skep die beet bo-op dit. Skep nog van die crème fraîche-mengsel bo-op en rond af met nog van die dukka en vars koljanderblare. Sprinkel die suurlemoensap en olyfolie oor.

Om te drink

Daar is komplekse geure in dié gereg, daarom moet die wyn ook aromaties wees. Probeer The Foundry se viognier.