4 – 6 porsies

  • 750 ml laevetmelk
  • 100 g botter
  • 250 ml semolina-meel
  • 100 g (250 ml) parmesaankaas, gerasper
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 45 ml olyfolie
  • 250 g baba-sampioene
  • 180 g klein groenbone, stingels afgesny
  • hand vol salieblare
  • 100 g dennepitte, gevlokte amandels of ander neute

Bring melk en botter tot kookpunt oor matige hitte. Voeg semolina geleidelik by en hou aan klits tot dik. Hou aan roer oor hitte vir nog sowat 5 minute of tot gaar. Haal van plaat af en laat effens afkoel. Meng parmesaan by tot gesmelt. Geur goed met sout en peper. Gooi mengsel in ’n 30 x 20 cm-bakplaat wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Smeer die mengsel tot sowat 1 cm dik. Laat stol in yskas tot yskoud. Keer gestolde mengsel op werkoppervlak uit en sny in 2 x 1 cm-blokkies. Verhit olie in braaipan tot warm oor hoë hitte. Roerbraai sampioene vir 3 minute of tot begin verbruin. Voeg groenbone by en roerbraai vir nog 2 minute. Voeg semolina-blokkies, salie en dennepitte by. Braai vir 3 minute of tot blokkies warm is. Geur goed met sout en peper. Sit warm voor.