(genoeg vir 30 cm-pastei)

  • 45 ml olyfolie
  • 6 groot (sowat 2 kg) lamskenkels
  • 2 uie, grofgekap
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • 4 selderystingels, gekap
  • 30 ml fyn koljander
  • 30 ml vinkelsaad
  • 1 x 200 g-buis tamatiepasta
  • 2 x 410 g-blikke kersietamaties
  • 500 ml rooiwyn
  • 500 ml beesvleisaftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 5 groot aartappels, geskil
  • 250 ml louwarm melk
  • koekmeel vir uitrol
  • 1 x 400 g-rol broskors (shortcrust)

8 uur voor die tyd Verhit oond tot 100 °C. Verhit olyfolie in oondbestande middelslag-pot tot warm. Verbruin lamskenkels in warm olie, sowat 5 minute per kant. Haal uit pot en voeg uie, knoffel, seldery, koljander en vinkel by. Roerbraai vir sowat 5 – 8 minute of tot uie begin verbruin.Voeg tamatiepasta by en braai nog 2 minute. Voeg kersietamaties, wyn en aftreksel by. Meng en bring tot kookpunt.

Plaas skenkels in sous. Geur goed met sout en peper. Plaas pot in oond en bak vir 8 uur. Maak pastei Verhit oond tot 200 °C. Kook aartappels in groot pot met water tot sag en gaar. Dreineer en druk fyn met aartappeldrukker. Voeg genoeg melk by en meng tot gladde, romerige mengsel. Geur goed en skep in spuitsak met stervormige 1 cm-tuit. Sprinkel koekmeel op werkvlak en rol broskors met koekroller tot sowat 4 mm dik.

Spuit ’n 30 cm-losboom-koekpan goed met kleefwerende kossproei. Voer pan uit met deeg. Verwyder skenkels uit warm sous en haal die been uit – maak seker jy haal die stukke vleis wat dalk al afgeval het ook uit die sous. Breek in kleiner stukkies en meng van die pot se sous by tot klam vulsel. Skep in deegkors. Spuit kapokaartappel-rosette bo-op vleisvulsel tot heeltemal bedekPlaas in oond en bak vir 30 – 35 minute of tot aartappels goudbruin en kors gaar is. Laat effens afkoel en verwyder ring. Sit warm voor.