Die kombinasie van boerewors en varkworsies maak die lekkerste frikkadelle. Boonop hoef jy dit glad nie te geur nie – die worse se geur is genoeg.

Genoeg vir 6

• 600 g dik boerewors

• 500 g varkworsies

• 100 ml olyfolie

• 1 ui, fyngekap• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• 2 x 400 g-blikke heel tamaties

• 5 ml droë oreganum

• 125 ml rooiwyn

• 250 ml tamatiepuree

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 500 g tagliatelle-pasta

• 100 g parmesaankaas, gerasper

• 40 g vars roket

Verhit oond tot 200 °C. Druk die vleis uit albei soorte wors. Meng goed saam en vorm 12 groterige frikkadelle. Sprinkel helfte van die olyfolie op ’n bakplaat en plaas frikkadelle bo-op. Oondbraai 45 minute in warm oond tot gaar. Maak intussen die tamatiesous. Verhit res van olyfolie in ’n kastrol. Voeg ui en knoffel by. Braai tot sag en deurskynend. Voeg tamaties, oreganum, wyn en tamatiepuree by. Geur met sout en peper en roer goed deur. Maak kastrol toe met deksel en laat toe prut vir sowat ’n halfuur. Haal deksel af en laat verder oop prut tot dik. Druk die tamaties fyn met ’n vurk. Wanneer die sous lekker dik is, haal af van hitte. Plaas frikkadelle versigtig in sous en meng liggies deur. Kook pasta volgens aanwysings op pak en dreineer. Skep pasta op opdienbord en skep frikkadelle en sous bo-op pasta. Sit voor met parmesaankaas en vars roket.