Die wors maak ’n smaaklike toplaag vir daardie rugbydae wat nou weer voorlê.

6 oop pizzas + 4 toevou-pizzas

• 40 ml olyfolie

• 1 ui, fyngekap

• 1 knoffelhuisie, fyngekap

• 1 x 400 g-blik gekapte tamaties

• sout en varsgemaalde swartpeper

• hand vol vars basiliekruidblare, grofgekap

• 600 g dik boerewors

• 1 kg winkelbrooddeeg

• 300 g mozzarella-kaas, gerasper

Verhit oond tot 230 °C. Verhit olie in ’n kastrol. Voeg ui en knoffel by en braai tot sag en deurskynend. Voeg tamaties by en geur met sout en peper. Laat sous oop prut tot dik. Voeg basiliekruid by en meng goed deur. Laat sous afkoel. Plaas wors in ’n pan en voeg bietjie water by – sowat ½ cm diep. Plaas op stoofplaat en verhit. Braai tot al die water weggekook het en draai wors om. Braai verder tot gaar. Haal af en laat afkoel. Sny wors in skywe en hou eenkant. Verdeel deeg in 10 balle. Rol elke stuk deeg dun uit om ’n ronde pizza-basis van sowat 15 cm in deursnee te maak. Smeer tamatiesous bo-op. Sprinkel kaas bo-op. Rangskik wors bo-op 6 van die sirkels en plaas op ’n bakplaat. Sprinkel bietjie olyfolie oor en plaas in warm oond. Bak sowat 10 minute tot deeg gaar is. Rangskik wors aan die een kant bo-op die ander 4 sirkels. Vou toe dat dit soos ’n halfmaan lyk. Druk die kante van die deeg goed vas en plaas op ’n bakplaat. Plaas in oond en bak sowat 10 minute tot gaar. Haal uit en sit warm voor. Sprinkel vars geskeurde basiliekruidblare bo-op.