(4 – 6 PORSIES)

  • 60 ml olyfolie
  • 2 groot uie, gekap
  • 30 ml goeie masala
  • 5 knoffelhuisies, fyngekap
  • 7 cm-stuk vars gemmerwortel, geskil en gerasper of fyngekap
  • 3 brandrissies, gekap
  • 10 ml tamaryn
  • 125 ml witasyn
  • 500 ml karringmelk
  • 5 suurlemoen- of lourierblare
  • 250 ml kookwater
  • 600 g gemsbokboud of -rugstring, goed verouder, in blokkies gesny

Verhit olyfolie in ’n middelslagkastrol, voeg die uie by en braai dit liggies tot goudbruin (omtrent 5 minute). Gooi die masala, knoffel, gemmer en brandrissies by en braai dit vir nog 3 – 5 minute tot dit geurig is. Week die tamaryn in kookwater tot dit opgelos het, gooi die tamarynwater en asyn in die kastrol en verhit dit tot kookpunt. Laat die mengsel effens afkoel en roer dan die karringmelk en

suurlemoen- of lourierblare by. Sny die gemsbokvleis in blokkies van 3 cm, sit dit in ’n bak en gooi die marinade booor – maak seker al die vleis is met marinade bedek. Laat dit oornag marineer. Week

sosatiestokkies vir sowat 20 minute in water en ryg dan die vleisblokkies op die stokkies. Braai dit oor warm kole of in ’n warm braaipan vir sowat 3 – 5 minute aan elke kant vir mediumgaar, of langer indien jy jou vleis gaarder verkies. Sit dit voor saam met pangebraaide kweperskywe, en, soos Leipoldt aanbeveel, ’n soet blatjang.