Hierdie pastei smaak die beste met gerookte varklende.

genoeg vir 8 pasteie van so 12 cm in deursnee

• 40 ml olyfolie

• 1,3 kg gerookte varklende

• sap van 1 suurlemoen

• 15 ml vinkelsaad

• 3 knoffelhuisies, fyngekap

• varsgemaalde swartpeper

• 250 ml groenteaftreksel

• 1 pak (800 g) vierkantige velle blaardeeg (4 velle van 200 g elk)

• 1 geklitste eier

Verhit oond tot 160 °C. Sprinkel olyfolie in oondbraaibak. Plaas varklende in die bak. Sprinkel suurlemoensap oor. Stamp die vinkel effe fyner met ’n stamper en vysel. Vryf vinkel en knoffel oor varklende. Geur met peper. Gooi groenteaftreksel in oondbak en bedek met tinfoelie. Plaas in oond en oondbraai 4 – 5 uur. Haal uit en vlok vleis met twee vurke. Laat heeltemal koud word. Verhit oond tot 200 °C. Sny elke deegvel in vier. Jy sal nou 16 vierkante hê.

Skep ’n groot opgehoopte lepel vol koue vulsel in die middel van elk van 8 vierkante. Smeer met geklitste eier om rand. Plaas ’n vierkant deeg bo-op elk en druk goed vas om die rand. Vou die rand van die pasteie in om dit te seël. Plaas pasteie op bakplate wat uitgevoer is met bakpapier. Verf bo-op met geklitste eier en plaas in warm oond. Bak vir 45 minute tot 1 uur. Die deeg moet bros en goudbruin wees.

Wenk

As jy gerookte varkvleis kook, moet jy liefs nie sout byvoeg nie. Die vleis is klaar sout.