(4 porsies)

  • 12 kalfsbeen-murgbene, in stukke van sowat 9 cm gesaag
  • 1 bossie pietersielieblare (pluk die blare van die stingels af), grofgekap
  • 2 salotte, fyngekap (báie fyn)
  • 1 handvol kappertjiesaad
  • sap van 1 suurlemoen
  • olyfolie
  • roosterbrood (so 2 snye per persoon)
  • growwe sout

Verhit jou oond tot 230 ºC. Sit die murgbene in ’n oondroosterbak. Rooster vir so 20 minute (na gelang van die bene se dikte). Die murg moet net lostrek van die been, nie smelt nie. Meng die pietersielie met die salotte en kappertjiesaad. Net voor bediening, gooi die suurlemoensap en ’n klein bietjie olyfolie oor dié slaai. Plaas die slaai op die bord saam met die murgbene en bedien saam met die roosterbrood en growwe sout.

Só eet jy dit

Skraap die murg uit die bene op die roosterbrood. Sit ’n klein bietjie slaai bo-op en geur met growwe sout.

* Resep uit Fergus Henderson, The Whole Beast - Nose to Tail Eating, Bloomsbury, 2004

Om te drink

Dis nou één gereg wat 'n goeie bottel pinot noir vereis! Vriesenhof s’n is heerlik. So ook Muratie s’n en De Wetshof se Danie de Wet Nature in Concert.