Geen Kerstafel is vir my ooit voltooi sonder ham nie. Jy kan nooit genoeg resepte hê nie! 

genoeg vir 10 – 12

• 1 groot gerookte ham (gammon), been en vel aan (die een op die foto is 4 kg groot)

• 2 uie, geskil en gehalveer

• 4 lourierblare

• 10 swartpeperkorrels

• hand vol heel naeltjies

GLASUURSEL

• 1 x 500 g-bottel heuning

• 60 ml korrelmosterd

• 500 ml lemoensap

Plaas ham in ’n groot kastrol. Voeg ui, lourierblare en peperkorrels by. Bedek met water en bring tot kookpunt oor hoë hitte. Kook 30 minute per 500 g, minus 30 minute vir die tyd wat die ham moet bak. (Die 4 kg-ham het 3½ uur lank gekook.) Haal versigtig uit water en trek vel af terwyl nog warm sodat die vetlaag wys. Sit in oondroosterpan. Gebruik ’n skerp mes en sny ’n diamantpatroon in die vetlaag. Druk ’n naeltjie in elke diamant. (Jy kan dit alles doen die dag voor jy die ham gaan voorsit.)

Glasuursel Verhit oond tot 180 °C. Plaas al die bestanddele in ’n middelslagpot en bring tot kookpunt. Laat prut vir 1 minuut en verwyder van hitte. Gooi hele mengsel oor ham. Plaas ham oop in oond en rooster vir 30 minute. Skep elke 10 minute van die glasuursel in die pan oor. Bak tot ham goudbruin is. Plaas op mooi opdienbord en sit voor.

Kyk HIER na die res van ons Kersfees-spyskaart