Basiese resep

Gebruik hierdie resep as basis vir 5 verskillende soorte worsies.

(genoeg vir 30 worsies)

  • 1 kg varkmaalvleis van goeie gehalte
  • 200 g varkvet, fyngekap
  • 15 ml swartpeper
  • 10 ml sout
  • 5 ml droë origanum
  • 15 ml fyn koljander
  • 90 ml witwyn
  • 1 skoon derm (bestel by slagter), geweek in koue water
  • olyfolie vir braai

Plaas al die bestanddele vir die basiese vleismengsel behalwe die derm en olyfolie in ’n groot mengbak en meng deeglik deur met skoon, nat hande. Verhit braaipan en braai bietjie van die mengsel tot gaar om te proe of dit geurig genoeg is. Pas aan volgens smaak. Ryg skoon derm op die tuit van ’n worsmaker en knop punt stewig toe Sien KASSIE onder as jy nie so ’n masjien het nie. Druk mengsel versigtig maar so kompak moontlik in die derm uit. Draai ná elke 4 cm van gevulde derm die worsie 6 – 8 keer in die rondte om dit te seël. Herhaal proses tot die derm opgebruik is. Trek van tuit af en knoop punt stewig toe. Verhit bietjie olyfolie in ’n pan en braai worsies so 3 – 5 minute per kant of tot goudbruin en gaar. Sit voor met roomkaas.

Wenk

Skaapderm is sagter as varkderm. Vra jou slagter daarvoor. Sit worsies 3 – 4 uur in die yskas voor jy dit braai. Geure sal ontwikkel.

Kruiewors

  • 1 x basiese vleismengsel
  • 10 g vinkelsaad
  • 1 x 30 g-pakkie pietersielie, fyngekap
  • 30 ml gemengde droë kruie
  • 30 ml sjerrie-asyn
  • roomkaas vir voorsit

Meng al die bestanddele behalwe roomkaas saam met die basiese vleismengsel en volg metode soos in basiese resep. Sit gaar wors voor met roomkaas.

Maak wors sonder ’n masjien

Al wat jy nodig het, is ’n versiersak, ’n bietjie tyd en goeie bestanddele

  1. Sit ’n 1 cm-tuit sonder ’n patroon aan ’n spuitsak.
  2. Ryg soveel derm as wat jy kan op die tuit. Knip derm sowat 5 cm van die tuit af en knoop.
  3. Vul sak met maalvleismengsel. Druk mengsel versigtig maar so kompak moontlik in die derm uit.
  4. Draai ná elke 4 cm van gevulde derm die gevormde worsie 6 – 8 keer in die rondte om dit te seël.
  5. Herhaal die proses tot die derm opgebruik is. Maak net so in ’n lang string gaar. Sny los vir voorsit.