Genoeg vir 8 – 10

  • 500 g strepiespek (streaky)
  • 1 x 2 kg ontbeende varknek
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • sowat 100 ml olyfolie
  • 6 baba-preie, in skywe gesny
  • 3 wortels, in klein blokkies gesny
  • 6 x 6-cm stukke seldery, in skywe gesny
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 3 lourierblare
  • 500 ml Sauvignon Blanc
  • 250 ml room
  • 30 ml mosterd

Verhit oond tot 180 °C. Pak die helfte van die spekrepe onder mekaar op ’n werkoppervlak. Maak seker die rande van die repe oorvleuel effens bo en onder. Pak die ander helfte van die repe langsaan, en sorg dat die twee rye repe in die middel af so 2 cm oorvleuel. Die spek-traliewerk moet groot genoeg wees om die varknek te bedek. Plaas die nek bo-op en geur met sout en peper. Vou nek toe met spek. Gooi helfte van olyfolie in ’n oondbraaibak. Plaas nek in bak. Verhit res van olyfolie in pan en voeg die preie, wortels, seldery en knoffel by. Braai sowat 10 minute. Gooi groente om die varknek in oondbraaibak. Plaas lourierblare bo-op groente en gooi wyn oor. Plaas oop in oond vir 1½ uur. Maak toe met tinfoelie en plaas terug in oond vir nog 1 uur. Haal bak uit en haal vleis uit, maar los die groente in die bak. Plaas die bak bo-op ’n stoofplaat. Verhit en voeg room en mosterd by. Laat effens kook vir so 5 minute. Skep groente op opdienbord en plaas nek bo-op. Sit voor.