Dis een van my gunsteling-varkgeregte en-snitte

(6 – 8 porsies)

  • 1 ontbeende varknek, sowat 1,5 kg
  • 30 ml olyfolie
  • 15 ml botter
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 wortel, in klein blokkies gesny
  • 2 preie, in skywe gesny
  • 4 heel knoffelhuisies
  • 15 ml koekmeel
  • 500 ml melk
  • hand vol pietersielie
  • 5 takkies vars tiemie
  • 2 lourierblare
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 10 ml mielieblom

Bind die ontbeende varknek met tou vas, sodat die vleis sy vorm behou terwyl dit kook. Verhit olyfolie en botter saam in groot kastrol. Braai varknek rondom tot bruin. Haal uit en hou eenkant. Verlaag hitte en voeg ui, wortel, preie en knoffel by. Braai tot sag. Voeg meel by en roer goed deur. Plaas varknek bo-op groente en voeg melk, pietersielie – dit hoef nie gekap te wees nie – tiemie en lourierblare by. Geur met sout en peper. Maak toe met deksel en laat prut oor lae hitte vir 1½ uur. As jy die deksel oopmaak, moet jy nie skrik nie – die melk sal skif en dit lyk nie baie aangenaam nie. Glo my, dit sal alles die moeite werd wees. Wanneer die varknek gaar en sag is, haal uit en hou warm eenkant. Verwyder die lourierblare en takkies van die tiemie. Gooi melkmengsel in ’n voedselverwerker of versapper en puree tot fyn. Gooi in klein kastrolletjie. Meng mielieblom en bietjie van die sous. Voeg by puree in pot en verhit tot sous effe dikker is. Sny varknek in skywe en plaas op opdienbord. Gooi sous oor en garneer met vars tiemietakkies.