As die weer dit toelaat, is daar vir my niks lekkerder as ’n braai op Oujaarsaand nie.

Genoeg vir 6

Nie almal hou van knoffel op steak nie. Bak heel knoffelknolle apart in die oond en wanneer die knoffel warm en sag is, kan jy dit op jou steak uitdruk.

• 6 heel knoffelknolle

• sowat 100 ml olyfolie

• 6 ribsteaks aan die been

• 125 ml worcestersous

• 60 ml olyfolie

• 60 ml suurlemoensap

• sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 180 °C. Sny die bokant van die knoffelknolle af. Plaas in oondbraaibak. Sprinkel 100 ml olyfolie oor en plaas in oond. Oondbraai sowat 30 – 40 minute tot sag. Hou eenkant. Plaas steaks in ’n groot plat bak. Gooi worcestersous, 60 ml olyfolie en suurlemoensap oor. Laat marineer sowat 1 uur. Wanneer kole reg is vir braai, geur steaks met sout en peper. Braai tot so gaar as wat jy dit verkies. Sit voor met die oondgebraaide knoffel.