Ek is mal oor die kombinasie van die chorizowors en steak. Die chorizo se geur vul die beesvleis s'n aan. Chorizo is Spaanse varkwors wat sterk gegeur is met gerookte paprika.

(12 kebabs)

  • 1 geel soetrissie
  • 1 groen soetrissie
  • 1 rooi soetrissie
  • 2 x 400 g kruisskyf-steaks (rump)
  • 60 ml olyfolie
  • sap van 1 suurlemoen
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2,5 ml groen brandrissie, fyngekap
  • 2,5 ml gerookte paprika
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 4 chorizoworse, in stukke gesny
  • olyfolie om oor kebabs te sprinkel

Plaas 12 hout-sosatiestokkies in ’n bak. Gooi kookwater oor en laat week minstens 1 uur lank. Sny soetrissies oop en verwyder pitte en sagte wit vlees. Sny in sowat 2 cm blokke. Plaas in ’n bak en gooi kookwater oor. Laat staan sowat 30 minute tot effe sag. Sny steak in sowat 2 cm blokke en plaas in nog ’n bak. Meng olyfolie, suurlemoensap, knoffel, brandrissie en paprika saam in bakkie. Geur vleisblokke met sout en peper en gooi sous oor. Laat staan sowat 15 minute. Haal stokkies uit water en ryg eers ’n stukkie wors en dan ’n stukkie steak, dan ’n stuk soetrissie, weer wors, dan soetrissie en dan weer ’n stuk steak, tot die stokkie vol genoeg is. Herhaal die proses tot al die bestanddele op is. Verhit ’n riffelpan. Sprinkel ’n klein bietjie olyfolie oor kebabs. Plaas in warm pan en braai tot mooi bruin. As jy die vleis pienk wil hê, sal dit so 8 minute duur. Sit voor saam met tamatie-en-basiliekruidslaai.

Vleissnit gebruik – kruisskyf (rump) – ideaal vir sosaties