Met ’n pakkie worsies in die vrieskas kan jy vinnig ’n wengereg optower. Ek sit dit voor op brood, die brood trek al die sous in . . . hemels! Lekker vir ontbyt, middagete of aandete.

(Genoeg vir 4)

Gaarmaaktyd: 30 minute

  • 30 ml olyfolie
  • 1 ui, in ringe gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 15 ml vinkelsade
  • paar takkies tiemie
  • 60 ml witwyn
  • 15 ml suiker
  • 1 houer (28 g) beesaftreksel (stock pot)
  • 1 x 400 g-blik kersietamaties
  • 500 g varkworsies
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • brood van jou keuse, gerooster

Verhit oond tot 200 °C met die roosterelement aan. Verhit olyfolie in ’n oondpan en braai ui, knoffel, vinkelsaad en tiemie saam tot bruin van kleur. Voeg witwyn, suiker, beesaftreksel en tamatie by. Verhit tot kookpunt. Voeg rou worsies by en plaas in oond. Bak sowat 15 minute tot worsies bruin en gaar is. Draai worsies gereeld om. Geur met sout en peper na smaak. Sit voor op geroosterde brood.