Lekker Lamskerrie

(genneg vir 6 – 8)

  • 30 ml sonneblomolie
  • 1,5 kg skaapnek en -blad, in tjops gesaag
  • 2 uie, grofgekap
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • stuk vars gemmer (soos jou duim), geskil en gerasper
  • 7 ml vinkelsaad, met ’n vysel fyngestamp
  • 10 ml komyn
  • 10 ml koljander (ek verkies die growwer gemaalde een wat ons vir biltong gebruik; dis geuriger)
  • 1 kaneelstok
  • 15 ml garam masala
  • 5 kardemompeule, ook in die vysel fyngemaak
  • 1 of 2 brandrissies, opgekap (na smaak – hang af hoeveel jy van brand hou)
  • 15 ml borrie
  • 4 groot vars tamaties, ontvel en gekap
  • 4 ryp piesangs, fyngedruk
  • 2 appels, gerasper
  • sap van 1 suurlemoen
  • 1 x 400 g-blik klappermelk
  • 250 ml vleisaftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 500 g klein aartappeltjies, met skil

Verhit oond tot 160 °C. Verhit olie in groot plat oondkastrol. Braai vleis bietjiesbietjies tot mooi bruin, en hou eenkant. Braai uie tot sag en deurskynend. Voeg knoffel, gemmer en al die speserye by. Braai ‘n minuut om geure te ontwikkel. Voeg die tamaties, piesangs, appels suurlemoensap en klappermelk by. Voeg gebraaide vleis en aftreksel by en geur met sout en peper. Roer deur, en wanneer die mengsel kook, bedek met deksel en plaas in oond. Voeg aartappels ná ’n uur by. Oondbraai nog 2 uur tot vleis lekker sag is. Haal uit oond, en as daar nog baie vloeistof is, plaas op stoof, verwyder deksel en laat oortollige vloeistof wegkook. (Kerrie word NOOIT met koekmeel of mielieblom verdik nie.)

Sit voor met Thaise rys en sambal van jou keuse. Mango- of kwepersambal is heerlik hierby.