• 500 g baba-aartappels, met skil
  • olyfolie (indien bak)
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 rooi-ui
  • 250 ml mayonnaise
  • 250 ml suurroom
  • 15 ml korrelmosterd (Dijon)
  • vars dille

Die heel lekkerste is om die baba-aartappels sommer skil en al in 'n oondpan te gooi, dit met 'n bietjie olyfolie, sout en peper te geur en dan vir so 30 - 40 minute (afhangend van die grootte van die aartappels) te bak. (Jy kan dit ook kook indien die bak te veel moeite is, los dan net die olyfolie uit.) Terwyl die aartappels bak: Sny die ui in fyn skyfies.

Meng die mayonnaise, suurroom en mosterd. Trek solank die dille van die stingels af. Die aartappels is reg sodra dit sag is maar nog ferm en die skilletjie goudkleurig. Laat effens afkoel en sny in die helfte so gou as wat dit hanteerbaar is. Sit die aartappels, ui en dille in 'n groot mengbak en gooi helfte van die sous oor. Dis belangrik dat die aartappels nog warm is as jy die mayonnaise-sous oorgooi sodat die geur in die aartappels intrek. Laat verder afkoel en gooi dan die res van die sous oor. Die slaai is die lekkerste as dit teen kamertemperatuur voorgesit word!