Die sous is koud en die pasta warm.

Kook 500 g tagliatelle volgens aanwysings op die pak. Vir 6 mense, blansjeer 6 groot tamaties (dit beteken dompel die tamaties in kookwater vir 4 minute tot die skil bars). Verwyder skil van tamatie, sny tamatie oop en druk die pitte en sap uit. Sny in klein blokkies. Ek gebruik 200 g gerookte salm vir 6; sny in nie te klein repe. Ontpit 1 pakkie swart olywe (100 g). Om die sous klaar te maak: Meng die tamaties, salm en olywe met 250 ml room (verkieslik dik room) met ’n hand vol gebreekte vars basiliekruid en vars gemaalde swartpeper. Moenie sout byvoeg nie, want die salm kan partykeer sout wees. Wanneer die pasta gaar is, dreineer en sit onmiddellik met die koue sous voor. Fantasties - ’n moet vir spesiale geleenthede.


Om te drink

Springfield Chardonnay sal hier ’n goeie keuse wees.