Deeg

  • 500 ml/280 g koekmeel
  • 2 ml sout
  • ¾ koppie botter
  • 3 eetlepels wit margarien
  • koppie water met ys in

Vulsel

  • 5 Pink Lady-appels
  • 5 Golden Delicious-appels
  • 5 eetlepels strooisuiker
  • gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • sap van 1 suurlemoen
  • 5 ml kaneel
  • 3 eetlepels botter in klein blokkies
  • vanieljeroomys of room om voor te sit

Sif die meel en sout saam. Vryf die botter en wit margarien in die meel tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg nou van die yswater lepel vir lepel by tot dit ’n lekker deeg vorm. (Dis so ’n ¼ koppie, maar jy moet self skat tot dit ’n lekker deeg is.) Bedek met kleefplastiek en laat vir 1 uur in die yskas rus. Skil die appels af en sny in skywe. Sit die appels in ’n groot bak en gooi al die bestanddele behalwe die botter oor.
Verdeel nou jou deeg in twee. Rol die een stuk deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak en sit in ’n tertbord. Gooi die appels in en stip die botter oor. Rol die ander helfte van die deeg lekker dun uit. Vou die deeg in die helfte en maak snye. Vou die deeg oop en plaas bo-op die appels. Vou nou die twee stukke deeg oormekaar sodat dit goed geseël is en maak ’n riffelrand met jou vingers. Sprinkel strooisuiker bo-op en bak in ’n warm oond van 180 °C vir so 45 minute. Sit warm voor saam met vanieljeroomys of room.