(6 porsies)

Bereiding 5 minute
Kook 30 - 40 minute

Gee my enige tyd vars artisjokke met suurlemoen en knoffelbotter ... Jy smul aan elke blaartjie en wanneer jy by die hart van die artisjok uitkom, voel dit of jy ’n skat ontdek het.

  • 6 vars artisjokke
  • 250 ml gesmelte botter
  • sap van ½ suurlemoen
  • 4 huisies knoffel, grofgekap

Sny die stele van die artisjokke af. Maak seker die artisjok pas op ’n bord. Sny die boonste gedeelte van elke artisjok gelyk. As daar baie harde blare aan die buitekant is, kan jy dit afhaal. Bring ’n groot kastrol met water en ’n bietjie sout tot kookpunt en dompel die artisjokke in. Bedek met ’n deksel en laat vir 20-30 minute kook. Toets met ’n toetspen of die artisjokharte sag is. Smelt die botter. Voeg die suurlemoensap en knoffel by. Sit die knoffelbotter saam met die artisjokke voor.