genoeg vir 4 – 6 

• 1 x 400 g-rol blaardeeg

• 250 g spek, fyngekap

• 170 g vars aspersies

• 3 eiers

• 100 ml room

• 30 ml tiemie

• sout en swartpeper

Verhit oond tot 180 °C. Spuit ’n 9,5 x 33 cm-losboom-quichepan met kleefwerende kossproei. Gebruik ’n koekroller en rol blaardeeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit tot sowat 3 mm dik. Voer quichepan uit met deeg. Prik bodem met ’n vurk en bak vir 10 minute of tot dit begin verkleur. Sprinkel spek op bodem van kors, gevolg deur heel aspersies. Meng eiers, room en tiemie saam. Geur goed met sout en swartpeper. Gooi bo-oor aspersies en plaas terug in oond. Bak verder vir 15 – 20 minute of tot goudbruin en gestol. Laat effens afkoel en sit voor met slaai van jou keuse.

Wenk

As jy nie van aspersies hou nie, kan jy ook uie in dun ringe sny en dit saam met swart olywe gebruik as vulsel.