Dié resep is genoeg vir 6 medium-groot pizzas (sowat 20 cm in deursnee). Vir
meer, maak die deeg eerder 2 keer aan as om die resep te verdubbel, want om
’n kilogram deeg te knie is harde werk. Selfs jou elektriese menger sal swaarkry
met meer as 500 g meel op ’n slag.

Jy benodig

  • 500 g witbroodmeel
  • 2 x 10 g kits-suurdeeg
  • 5 ml suiker
  • 2 ml sout
  • 300 ml louwarm water

Meng die meel, suurdeeg, suiker en sout saam in ’n mengbak. Voeg louwarm water by en maak aan tot ’n deeg. As jy ’n elektriese menger gebruik, laat die masjien die deeg vir minstens 10 minute knie. Of knie die deeg met jou hande soos ek voorgestel het (ook minstens 10 minute). Smeer ’n groot mengbak met ’n bietjie sonneblomolie (dit keer dat die deeg vassit) en plaas die deeg daarin. Smeer weer die deeg met ’n klein bietjie sonneblomolie bo-op en maak toe met kleefplastiek. Laat die deeg tot dubbel die grootte rys.