Gebruik die basisresep vir die etes wat volg.

4–6 porsies

• 30 ml olyfolie

• 1 klein ui, fyngekap

• 2 knoffelhuisies, gekap

• 250 g arborio-rys

• 160 ml witwyn

• 700 ml groente- of hoenderaftreksel

• 125 ml room

• 280 g bevrore ertjies

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 120 g parmesaankaas, gerasper

1. Verhit olyfolie in groot, diep pan. Braai uie en knoffel tot sag en deurskynend. Voeg rys by en roerbraai vir nog sowat 5 minute.

2. Gooi wyn oor en laat stadig kook tot alles deur die rys geabsorbeer is. As jy nie van wyn in kos hou nie kan jy dié stap net uitlos.

3. Bring aftreksel tot kookpunt en hou warm oor lae hitte. Skep aftreksel lepel vir lepel by rysmengsel en roer goed ná elke byvoeging.

4. Nadat al die aftreksel bygevoeg is en die rys ’n klewerige voorkoms het, voeg room by en roer goed. Laat prut tot rys heeltemal gaar is en die mengsel ’n romerige tekstuur het. Voeg ertjies by en roer vir 2 minute. Geur goed met sout en swartpeper. Verwyder van hitte en meng parmesaan by.