Wat beslis dieselfde bly, is die deeg. Destyds kon jy nie sommer by ’n winkel instap en skilferkorsdeeg koop soos vandag nie. My ma sou beslis nie staan en skilferkorsdeeg maak nie, en ek neem haar glad nie kwalik nie. Sy het al haar pasteie gemaak met botterbroodjiedeeg - dieselfde resep wat sy gebruik het om skons te maak.

Sowat 6 - 8 porsies (hang af hoe honger jou mense is!)  

  • 1,5 kg biefstuk (ek gebruik beeslende, sirloin) in blokkies gesny  
  • 250 g repies spek, in blokkies gesny  
  • 4 wortels, in blokkies gesny  
  • 1 stingel seldery, fyngekap
  • 1 ui, fyngekap  
  • 2 huisies knoffel, fyngekap  
  • 1 blikkie bier of tapbier
  • Sout en vars gemaalde
  • swartpeper na smaak   
  • 2 lourierblare  
  • 2 takkies vars tiemie of 10 ml gedroogde tiemie    
  • 1 eetlepel Bisto

As jy tyd het, stel ek voor jy haal die steak uit die verpakking en laat dit oornag - oop - in die yskas. Want wanneer jy die vleis die volgende dag in blokkies sny, sal die vleis droog wees en nie sy sap verloor nie. Verhit olie in ’n swaarboomkastrol en braai vleis mooi bruin. Verwyder vleis uit kastrol en braai spek, wortels, seldery, ui en knoffel saam. Voeg vleis weer by en ook res van die bestanddele, behalwe die Bisto. Laat kook oor lae hitte op stoofplaat met toe deksel vir sowat 2 uur. Hou dop dat dit nie droog kook nie (as dit gebeur, voeg bietjie water by). Om sous dikker te maak, meng Bisto met bietjie water en roer by die vleis. Laat vir sowat 5 minute verder kook. Skep in bak. Jy kan een groot pastei maak (30 cm x 15 cm) of 3 kleiner bakke soos op die foto.

Botterbroodjiedeeg

  • Hier is die deeg wat my ma altyd gemaak het:
  • 2 koppies (500 ml) meel
  • 4 teelepels (20 ml) bakpoeier
  • knippie sout  
  • 1 eier   
  • ½ koppie (125 ml) melk   
  • 2 eetlepels (25 ml) olie  
  • roosmaryntakkies om bo in te druk (opsioneel)

Sif al die droë bestanddele saam. Klits eier, olie en melk saam. Voeg dit by die meel en maak aan tot stywe deeg. Gooi bietjie meel op werkoppervlak en druk deeg tot so 2 cm plat. Sny uit in verlangde vorm en plaas bo-op pastei. Smeer eiergeel oor deeg en druk ’n klein takkie roosmaryn in as jy wil. (Dit lyk net mooi.) Bak in warm oond (180 °C) vir 20 tot 30 minute tot die deeg mooi bruin is.

Om te drink
'n Vol rooi wyn om die rykheid van die gereg af te spoel en die cholestrol te verdun. Die Outsider Shiraz, Raka se Spliced-versnit en Stellenbosch Hills se 1707-versnit van cabernet en merlot sal aan die verwagtings voldoen.